Video
OUDTSHOORN NUUS - Die histerie oor moontlike besmetting van Oudtshoorn se drinkwater wat Maandag ontketen is, is Woensdag beëindig toe die munisipaliteit aangekondig het dat die jongste toetse geen E.coli-besmetting toon nie.
Die munisipaliteit het Maandag 'n dringende waarskuwing aan alle inwoners gerig dat kraanwater gekook moet word voordat dit gedrink word.
'n E.coli-telling van 360 cfu/100ml, is Maandag geregistreer nadat monsters by die Kerkstraat-reservoir ontleed is.
Johan Uys, bestuurder van die munisipaliteit se waterafdeling, het Woensdag gesê alhoewel die Kerkstraat reservoir slegs 3,6 miljoen liter water bevat en nie die hele dorp bedien nie, daar besluit is om alle inwoners te waarsku.
"Ons weet op hierdie stadium nie hoe die watermonster besmet geraak het nie, maar ons kan met sekerheid sê dat daar met Dinsdag se lesing geen besmetting was nie."
Hy het met die Oudtshoorn Courant se besoek aan die Kerkstraat-reservoir verduidelik hoe die dorp se vyf reservoirs by mekaar inskakel en ook aangedui dat daar nie 'n manier is waarop 'n dier of ander vorm van besmetting van buite in die reservoir kon beland nie.
Oor gerugte dat baie inwoners siek geword het as gevolg van die teenwoordigheid van E.coli in die water het Uys gesê hy dink dit is onwaarskynlik dat mense in verskillende dele van die dorp daarvan siek kon word aangesien die reservoir, wat die kleinste een van vyf is, 'n klein gedeelte van die dorp diens.
Hy het gesê dat watermonsters streng volgens wetgewing twee keer per maand by al vyf reservoirs geneem word.
"Gerugte dat daar nie gereeld toetse gedoen word nie, is heeltemal onwaar."
Hy het bygevoeg dat daar 'n moontlikheid bestaan dat die besmetting op een of ander manier slegs in die watermonsters wat geneem is, beland het en dus glad nie in die reservoir was nie.
In antwoord op 'n navraag aan Nadia Ferreira, woordvoerder van die provinsiale gesondheidsdepartement, het sy daarop gewys dat mense in gedagte moet hou dat die voorkoms van maagsiektes hierdie tyd van die jaar hoog is.
"Soos telefonies bespreek, kan ons bevestig dat ons 'n toename in pasiënte met diarree en braking oor die naweek gehad het.
"Maar ons moet ook in ag neem dat ons nou in die tydperk is (tussen November en Mei) wanneer ons verwag om elke jaar 'n toename in gevalle met diarree te sien," het sy per e-pos gesê.
Lees vorige artikels:
- Oudtshoorn-water weer reg vir gebruik
- Drinkwater moet steeds gekook word
- Chlorine dose at maximum
- Muis of duif dalk in stelsel
- Drinkwater: Hoë bakterieë lesing
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'