Groot eer vir plaaslike fietsryer

Louis Visser. Foto: Christo Vermaak

OUDTSHOORN NUUS - In Oudtshoorn se sportbinnekringe is behoorlik bespiegel oor Louis Visser, die dorp se junior fietsrytrots se skielike 'verdwyning'. Sportlui het geweet iets is aan die broei wat dié fietsrytalent se sportloopbaan gaan verander, maar die vraag was - wat?
 
Die geheim is uit. Louis Visser is in Team Dimension Data se voedingspan opgeneem. Hy is een van ses junior fietsryers vanuit Afrika wat die eer toegekom het.
 
Fietsryers is Vrydagaand 9 Desember tydens die Eden-fietsry se jaarlikse prysuitdeling met 'n raaisel gelaat toe Eden-fietsry se president, Corné Bence, verskoning gemaak het vir Visser en gesê het: "Louis is uitstedig en 'n aankondiging oor sy fietsrytoekoms mag nie nou gemaak word nie, maar sal wel later gedoen word."
 
In Visser se afwesigheid het Bence sy presidensiële toekenning aan Visser gemaak en hy is ook aangewys as Eden-fietsry se junior sportman van die jaar.
 
Hierdie 2016-vereering van Visser is voorafgegaan deur die Eden-sportraad se toekenning as o.23-junior sportman van die jaar en die Oudtshoorn-sportraad se toekenning as junior sportman van die jaar.
 
Bespiegelinge oor Visser se toekoms is in die kiem gesmoor toe Team Dimension se bestuur op Woensdag 1 Februarie aangekondig het: "Ses nuwe Afrika-ryers is opgeneem in die Dimension for Qhubeka-voedingspan," en Visser se naam onder die ses genoem is.
 
Die ander vyf Afrika ryers is Hafetab Weldu (Ethiopiese-kampioen), Gethachow Astbha, Joseph Areruya, Samuel Mugisha en El Mehdi Chokri. Saam met Visser is die vyf se kaartjies geboek om na afloop van die Suid-Afrikaanse o.23-kampioenskap In Maart na Lucca, Italië, te vlieg waar hulle tot einde Oktober gevestig sal wees.
 
 
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS 
 
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus' 


Your Comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a Oudtshoorn Courant