Plaaslike fietsryer vaar uitstekend in Europa

Louis bo-op een van die berugte passe.Foto's: CC Colindres.

OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn se kranige fietsryer, Louis Visser (jr) is reeds sewe weke in Europa waar hy reeds altesaam 1 056 kilometers kafgetrap het.
 
Die Oudtshoorn Courant het sy pa, kapt. Louis Visser van die SAPD, gevra om iets oor sy seun se ervaring met lesers te deel.
 
Louis het op uitnodiging op 18 Junie by die Spaanse junior klub, Ciclista Club Colindres, in die noorde van Spanje aangesluit. Hy en drie ander spanmaats bly in 'n spanwoonstel in Entrambasaguas in die noorde van Spanje geleë.
Aanpassing in Spanje was vir hom 'n uitdaging aangesien niemand Engels praat nie en gesprekvoering is volgens hom minimaal.
 
Op 5 Julie het Louis hom in België by die SA junior span aangesluit. Die eerste wedren in Luxemburg het nie baie goed afgeloop nie nadat hy voor die wedren voedselvergif-tiging opgedoen het en na slegs 26 km moes onttrek.
Die tweede wedren in België het baie beter gegaan en hy was vir meer as helfte van die wedren in 'n wegbreekgroep.
 
Hy het 26ste plek behaal in 'n groep-naelrit. Tussendeur die wedrenne moet daar nog geoefen word ook en op een van die ritte het Louis saam met Jean Biermans, die tweemalige wenner van die 360ne-wedren, gaan oefen en oor 'n koppie koffie ontspan. Jean bly in België nie ver van waar die SA span in Geleen, Ne-derland gebly het nie. Op 14 Julie is Louis weer terug Spanje toe om voor te berei vir 'n driedagwedren.
 
Hy het reeds aan sewe wedrenne deelgeneem waarvan drie eendagwedrenne- en vier multi-dagwedrenne was.
 
Anders as in Suid-Afrika is die wedrenne waaraan hy deelneem net vir junior mans waar tussen 100 en 200 ryers deelneem. In die meeste gevalle is daar ongeveer 160 ryers in 24 spanne. Verskeie nasionaliteite word ook daar verteenwoordig.
 
Die hoogtepunt tot dusver was die toer, Circuit xxxii Cantabro, 'n tweedagwedren wat uit drie skofte bestaan het.
 
Dag 1was 'n 69,9km-padwedren en 'n 5,8 km individuele tydtoets die middag. Dag twee was 'n 108 km-wedren. Op dag een het Louis die naelrittrui verower wat hy op die tweede dag behou het en as die bloutruiwenner aangewys is.
 
Hy het ook op die laaste dag 'n vyfde plek behaal en 'n algehele vyfde plek in die toer.
 
Louis voel tevrede met sy vordering en geniet elke kilometer wat hy in wedrenne ry. Die kompetisie is baie sterk en dit is 'n voorreg om wedrenne te ry waar juniors van verskillende nasies deelneem. Waar hy verlede jaar in Europa gery het vir oorlewing in elke wedren ry hy vanjaar aan die voorpunt van die wedrenne en hy was in verskeie wegbreekgroepe in bykans elke wedren.
 
Spanje en Portugal is pragtige lande maar daar is geen plat paaie daar nie, dit was iets wat hom 'n tydjie gevat het om aan gewoond te raak.
 
In die laaste skof van die toer van Portugal was daar twee kategorie-2-klimme wat beteken dit is twee klimme 10 en 12 km lank met 'n gradiënt van tussen 5 en 7%. Dit kan vergelyk word met die Swartbergpas.
 
Louis keer op 22 Augustus terug en sal heel waarskynlik aan nog twee wedrenne deelneem voor hy terugkeer. Dan sal die fokus wees om hom voor te berei vir die matriek rekordeksamen.
 
Die laaste belangrike fietsry van die jaar sal dan afgesluit word op 2-5 Oktober in Oudtshoorn waar die Interprovinsiale Jeugfees gaan plaasvind en waar hy gekies is om die Wes-Kaapse span te verteenwoordig.
 
Volg Louis se wedervaringe op www.louisvisser.co.za
 
 
Louis breek weg van die bondel tydens 'n wedren.
 
'Ons bring jou die nuutste Oudsthoorn, Klein Karoo nuus' 


Your Comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a Oudtshoorn Courant