Louis Visser wen junior CTCT

Louis Visser tydens die afgelope week se wedrenne. Foto: www.thenewspaper.co.za

OUDTSHOORN NUUS - 'n Jong fietsryer van Oudtshoorn Louis Visser (jr.), was nie net die junior wenner van die Cape Town Cycle Tour (voorheen die Argus) nie, maar was minder as vier minute agter die algehele wenner. Visser het uit meer as 35 000 fietsryers 'n algehele 36ste plek behaal.
 
Die weersomstandighede tydens die CTCT was baie goed en die pas van die land se topspanne was van die begin af baie vinnig. Vroeg in die wedren het verskeie van die voorste ryers geval.
 
Visser se uitstekende prestasie in die CTCT het gevolg nadat hy slegs een rusdag gehad het na sy deelname aan die Tour of Good Hope wat oor vyf dae vanaf 29 Februarie tot 4 Maart in die Paarl plaasgevind het.
 
Die vyf dae het bestaan uit 'n individuele tyd-toets oor 39 km en vier dae se ry van tussen 100 en 135 km per dag. Elke dag se skof het by die Drakenstein-gevangenisdiens begin en Franschhoek, Villiersdorp, Worcester en Wellington ingesluit.
 
Daar was nie 'n kategorie vir juniors nie en Visser en sy ouderdomsgroep het saam met die elite en o.23-ryers gery.
 
Dit het beteken dat daar meegeding is teen Suid-Afrika se beste padfietsryers. Visser het die naaste junior aan hom met meer as 23 minute geklop en 'n 13de posisie in die o.23-afdeling behaal.
 
Visser, wat vanjaar in matriek is ontvang sedert Augustus 2015 afrigting by van Leadout Cycling se Barry Austin.
 
Hy sê dat die afgelope week en Sondag se prestasies nie moontlik sou wees sonder die puik afrigting van Austin nie.
 
Visser gaan op Austin se aandrang nou 'n ruskans geniet voordat hy vir die volgende groot kompetisie voorberei.
 
 
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'


Your Comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a Oudtshoorn Courant