Oudtshoorn-fietsryklub vereer lede

Jacques van Staden is aangewys as die klub se mansryer van die jaar.

OUDTSHOORN NUUS - Jacques van Staden en Vicky Scheepers is Vrydagaand as die Oudtshoorn-fietsryklub se fietsryers van die jaar aangewys.
 
Die junior fietsryers van die jaar is Louis Visser (jr) en Jessica Gerber. Al vier hierdie ryers is ook die volgende aand as Eden-fietsry se ryers van die jaar in hulle onderskeie kategorieë aangewys.
 
Shanique Loggerenberg het 'n toekenning ontvang vir die beste prestasie van die jaar terwyl Attie Botha en Jeanette Terblanche onderskeidelik vereer is vir beste vordering vir mans en vroue. Die toekennings is tydens die Oudtshoorn-fietsryklub se jaareindfunksie oorhandig.
 
Tydens sy verwelkoming het die klub se voorsitter, Mike Lombard, gesê hy is in sy noppies met die wyse waarop die klub die afgelope maande gegroei het.
 
Hy het hoogtepunte van die klub uitgelig en veral die drie fietswinkels in Oudtshoorn bedank vir die wyse waarop hulle fietsryers behandel en in hul behoeftes voorsien.
 
Een van die groot vooruitsigte vir volgende jaar is die aanbied van 'n klubkampioenskap.
 
Die klub het ook hulle nuwe embleem en nuwe klubtrui aan die sowat 80 gaste voorgehou. Die aand is met 'n braai afgesluit.
 
 
Attie Botha is aangewys as die mansfietsryers met die beste vordering.
 
 
Jeanette Terblanche is vereer vir beste vordering, vroue fietsryers.
 
 
Vicky Scheepers met haar toekenning as Oudtshoorn-fietsryklub se vroue fietsryer van die jaar. Weerskante van haar is Mike Lombard (klubvoorsitter) en Jaco von Molendorff (tesourier). Foto's: Hannes Visser.  
 
ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT REDAKTEUR
 
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'


Your Comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a Oudtshoorn Courant