Addisionele waterbronne vir Oudtshoorn

Chris Koch, direkteur tegniese dienste.

OUDTSHOORN NUUSFLITS - Boorwerke om Oudtshoorn se watervoorsiening aan te vul is noord van Dysselsdorp in volle swang. Die eerste gedeelte van die projek is afgehandel.
 
Chris Koch, direkteur tegniese dienste by die Oudtshoorn-munisipaliteit, sê die resultate lyk uiters positief.
 
“Die boorgat sal binne die volgende paar maande deel word van die Klein Karoo landelike-waterskema. Die moontlikheid van boorgatwater was onder bespreking en nog vier boorgate sal geboor word in die Vermaaksrivier area. Volgens verwagtinge van ‘n onafhanklike geo-hidroloog, sal dieselfde kwaliteit en hoeveelheid water addisioneel uit die Vermaaksrivier verkry word.
 
“Hierdie proses sal die munisipaliteit in staat stel om die hele Klein Karoo skema van ondergrondse water te voorsien. Die Raubenheimerdam sal grootliks vir Oudtshoorn se wateropgaring gebruik word.”
 
Koch het Vrydag 21 April gesê: “Die watergehalte in die Raubenheimerdam is vining besig om te verbeter nadat klein gedeeltes klei en as in die water sigbaar was. Die teenwoordigheid van as in die water gaan langer duur om heeltemal uit te sak. Die invloei vanaf berg na die Raubenheimer dam het intussen tot uitstaande kwaliteit verbeter maar is egter lae vloei wat ook die verdunnings effek gaan vertraag.”
 
Die burgemeester, Colan Sylvester, sê die munisipaliteit het nodig om ‘n watersuiweringsaanleg in Oudtshoorn deel te maak van die toekomsplanne, maar dat eerste prioriteit nog steeds sal wees om die grootmaatwatervoorsiening vir Oudtshoorn te waarborg.
 
“Die beoogde watersuiweringswerke maak deel uit van die geïntegreerde ontwikkelingsplan van die dorp, maar kan meebring dat indien opgerig die watertariewe van Oudtshoorn drasties kan styg, wat opgeweeg sal moet word teen die noodsaaklikheid daarvan gegewe die lae frekwensie van vuil water in Oudtshoorn.”
 
Klik hier vir vorige artikels:

ARTIKEL & FOTO: CHRISTO VERMAAK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS

'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'


Your Comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a Oudtshoorn Courant