Little Angels wil gemeenskap help

Links is Hester Grint (voorsitter van Little Angels), Dean du Plessis Sansom (middel) en Hennie du Plessis Sansom (beide van Little Angels) saam met die gesin wie se huis in Honeysucklelaan afgebrand het.Foto verskaf

OUDTSHOORN NUUS - Little Angels Oudtshoorn is 'n nuut gevestigde liefdadigheidsorganisasie wat ten doel het om die gemeenskap te help.
 
Hester Grint, voorsitter van Little Angels, sê die nood in Oudtshoorn is groot en sy en haar span wil graag daarmee help.
 
"Ons is tans vyf mense wat by die groep betrokke is. Claudia Hufke, Hennie en Dean du Plessis Sansom en Anneline Esterhuizen werk saam met my. Vir ons gaan dit nie oor wie jy is of watter kleur jy is nie, as daar nood is wil ons graag help," het Hester gesê.
 
Een van hul eerste projekte was om goedere in te samel vir 'n gesin wie se huis 'n tydjie terug in Honeysucklelaan afgebrand het.
 
"Die mense het letterlik alles in die brand verloor. Hul klere, huisraad, alles. Ons het 'n paar goedjies ingesamel en dit die week by hulle gaan afgee."
 
Hester sê hulle werk tans aan nog projekte soos die Koskas-projek en die Adopt-a-granny-projek.
 
"Die Koskas-projek is gestig omdat daar geweldig baie mense in Oudtshoorn is wat soms, sonder iets om te eet, moet gaan slaap. Ons doen wel eers inspeksie by die huise en probeer om op ander maniere ook te help soos om dalk te help werk kry of so iets. Ek glo ook as jy drank en sigarette kan bekostig kan jy kos bekostig. Ons gee dus nie vir almal wat vra nie, maar maak eers seker die nood is regtig groot," het sy gesê.
 
Die Adopt-a-Granny-projek het Hester 'n ruk terug begin, maar wil sy hom die jaar 'n hupstoot gee.
 
"Daar is so baie bejaardes in tehuise wat nie meer kinders het nie, of wie se kinders eenvoudig nie belangstel om hulle te help nie. Lede in die gemeenskap kan 'n ouma of selfs 'n oupa aanneem en dan help met toiletware of selfs net bietjie bederf," het sy gesê.
 
Hester vra dat die gemeenskap daadwerklik betrokke raak om die nood in Oudtshoorn te verlig.
 
"Ons wil nie geld hê nie. Ons vra ook nie dat mense iets moet doen nie, maar wanneer daar ou klere by die huis is of huisraad wat hulle nie wil hê nie kan hulle dit vir Little Angels skenk. Daar is so baie mense wat behoeftes het. Die mense hoef ook nie die goed vir 'n spesifieke projek te skenk nie, moet dit net nie weggooi nie. Iewers is daar iemand wat dit wat mense weggooi kan gebruik."
 
Enigiemand wat betrokke wil raak by Little Angels se projekte kan Hester by 084 811 1936 skakel.
 
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'


Your Comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a Oudtshoorn Courant