Man in Langenhovenweg aangerand

Salin Ogwang (34) is Sondagaand in Langenhovenweg aangerand. Foto verskaf

OUDTSHOORN NUUS - Die polisie ondersoek 'n klag van ernstige aanranding nadat 'n man Sondagaand in Langenhovenweg met 'n stok aangerand is.
 
Volgens Salin Ogwang (34) was hy van George op pad terug na Oudtshoorn toe die voorval gebeur het.
 
"Ek het verby die vulstasie gery toe iemand agter my ligte flikker. Toe ons in die dorp aankom sien ek dit is mense van Beaufort-Wes wat ek ken. Ons het toe in 'n pakeerarea in Langenhovenweg afgetrek.
 
"Die mans het uitgeklim om my te groet. Ons voertuie was nog aan, want ons sou nie lank bly nie. Dit was 'n taxibestuurder van Beaufort-Wes wat met mense op pad terug Beaufort toe was," vertel hy.
 
Ogwang vertel dat hulle skaars vyf minute langs die pad gestaan het toe 'n man uit sy erf na hulle toe aangestap kom.
 
"Hy het begin vloek en skel en gesê ek moet teruggaan Uganda toe en die ander mense moet teruggaan lokasie toe. Hy het net gevloek en geskel. Toe sê ek vir die man dit is nie nodig om so lelik te praat nie. Hy kon net mooi vra. Ons het omgedraai en na ons voertuie geloop. Met die wat ek omdraai het hy my met 'n voorwerp soos 'n stok oor die kop geslaan. Toe ek omdraai, toe slaan hy weer en weer," vertel hy.
 
Volgens Jason Booysen, 'n passasier in die taxi, was die man baie ongeskik.
 
"Hy het die lelikste goed geskel. Die mense het nie eens geraas nie. Net gewoon gepraat en toe kom die man en slaan aan Salin," vertel hy.
 
Volgens hom het hulle eers polisiestasie toe gegaan en toe hospitaal toe sodat Ogwang behandel kon word.
 
Ogwang sê hy woon al 10 jaar in Oudtshoorn en het nog nooit moeilikheid met enigiemand gehad nie.
 
"Ek sing en verkoop kruie. Die man wat my geslaan het, het ek al voorheen gesien, maar ek ken hom nie persoonlik nie. Ek het baie wit vriende en is glad nie rassisties nie. Ek weet regtig nie wat sy probleem was nie," het hy aan die Oudtshoorn Courant gesê.
 
Sers. Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie sê die polisie ondersoek steeds die saak.
 
Lees ook: 
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
 
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'


Your Comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a Oudtshoorn Courant