Balju lê beslag op burgemeestersketting

Die burgemeestersketting, gedra deur voormalige burgemeester, Gordon April.

OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn is sy burgemeestersketting van 24 karaat goud ter waarde van ongeveer R500 000 kwyt.
 
Die balju het vanoggend na twee en ‘n half ure se gesukkel uiteindelik daarin geslaag om toegang tot ‘n kluis in die munisipale gebou te kry om beslag te lê op die ketting.
 
Dit volg nadat die balju Woensdag op spogmeubelstukke van die raadsaal beslag gelê het volgens ‘n vonnis van ‘n skadevergoedingseis wat nie deur die munisipaliteit betaal is nie.
 
Volgens Johan Wagener wat namens die eiser, wat op ‘n stukkende sypaadjie geval en beseer is, optree het ‘n munisipale amptenaar skielik met die kluissleutel vorendag gekom toe die balju ‘n sleutelmaker opdrag gegee het om die kluis oop te boor.
 
Die ketting was egter in ‘n tweede kleiner kluis binne die groot kluis toegesluit. Volgens Wagener het die amptenaar gesê die klein kluis het nog nooit ‘n sleutel gehad nie. Die sleutelmaker het die kluis oopgeboor en die ketting is daarin gevind.
 
Indien die skadevergoedingseis van ongeveer R140 000 en ander kostes nie deur die munispaliteit vereffen word nie sal die ketting en meubels per openbare veiling verkoop word sê Wagener.
 
 
 
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
 
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'


Your Comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a Oudtshoorn Courant