Boekgesprekke sluit op hoogtepunt af

Eben Venter en Daniel Hugo op die verhoog tydens die ATKV Boekegesprek. Foto's: Marlene Malan

OUDTSHOORN NUUS - Twee Afrikaanse skrywers wat hul merk in die buiteland gemaak het, Ena Jansen en Eben Venter, het verlede Saterdag die KKNK-boekeprogram op 'n hoogtepunt afgesluit. Die program het bestaan uit sestien gesprekke met skrywers en literatore, en is georganiseer deur die digter en vertaler Daniel Hugo.
 
Jansen se aanbieding het gehandel oor haar bekroonde boek Soos familie, wat perspektief plaas op stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste, en Venter het oor sy hele oeuvre gesels, met besondere verwysing na Horrelpoot, wat in Engeland en Australië uitgegee is as Trencherman, asook Wolf, wolf, wat as Wolf, wolf ook oorsee verskyn het. Jansen se gespreksleier was Hannes Visser, redakteur van Oudtshoorn Courant, en Hugo het met Venter in gesprek getree.
 
Jansen het tot Maart vanjaar die leerstoel vir Suid-Afrikaanse Letterkunde aan die Universiteit van Amsterdam beklee, nadat sy vroeër by die Universiteit van die Witwatersrand klasgegee het, en Venter – wat tot vier jaar gelede in Prins Albert gewoon het – woon deesdae in North Lismore, Australië, waar hy tans aan 'n doktorsgraad werk.
 
Volgens Jansen het huiswerkers nog altyd 'n belangrike, maar dikwels onderskatte rol in die Suid-Afrikaanse samelewing gespeel. Hoewel daar in Soos familie meestal verwys word na "vroue van kleur" wat in wit gesinne werk, werk baie huiswerkers ook by nie-wit gesinne, en is baie van hulle deesdae wit.
 
Jansen het gesê haar fokus was op dié vroue se rol as verbindingsfiguur in gesinne in die om-gewings waar hulle werk, maar ook in hul eie omgewing – die sogenaamde "go-betweeners" tussen gemeenskappe. Hulle word al dekades lank op verskillende maniere benoem, onder meer "meid", "aia", "atta", "huishulp", "huiswerker", "bediende", "servant", "girl" en "domestic worker".
 
"Vir baie wit Suid-Afrikaners was hul eerste ervaring van rassisme in Suid-Afrika die behandeling van dié vrou in hul huis vir wie hulle baie lief was. Dit was dikwels 'n komplekse gevoel van liefde sowel as uitsluiting. Maar ons wittes het nie altyd 'waarom' gevra nie."
 
Jansen, wat bekend is vir haar geskiedkundige navorsing van en publikasies oor die Anglo-Boe-reoorlog, se Ons Japie: Die Boereoorlogdagboek van Anna Barry, het einde verlede jaar verskyn en is ook vroeër verlede week tydens die boeke-gesprekke bespreek.
 
Venter het op Burgersdorp grootgeword en die land die eerste keer in 1986 tydens die noodtoestand verlaat. "Die Weermag het my opgeroep, maar ek wou nie diens doen nie. Ek het 'n beklemming in hierdie land ervaar, maar dit het ook te doen gehad met my seksualiteit. Ek het gevoel ek sal myself beter in die buiteland kan uitleef.
 
In Potchefstroom, waar ek klasgeloop het in filosofie, het ek 'n bewussynsverandering ondergaan, en my broer, wat toe in Australië gewoon het, het my geborg om daarheen te kom. Ek het 'n sjef geword, sonder enige formele opleiding."
 
En toe begin hy skryf: Witblitz (1986), met sy groot deurbraak Foxtrot van die vleiseters (1993) en daarna Ek stamel, ek sterwe (1996), wat hom gevestig het as een van Afrikaans se grootste romanskrywers. Daarna het nog sewe boeke gevolg waaronder Horrelpoot, Santa Gamka en Wolf, wolf.
 
"My romans is altyd 'n mengsel van my eie lewe, met fiktiewe inkleuring. Ek het Horrelpoot geskryf toe ek geestelik op 'n lae vlak was, tydens 'n sewejaardroogte in die Groot-Karoo."
 
Eben se lewensmaat, Gerard Dunlop, het dié boek Eben se "book of hell" gedoop. Santa Gamka, met Prins Albert as agtergrond, het hy geskryf "toe ek na die bruin mense van die omgewing geluister het".
 
Sy nuwe roman, Groen soos die hemel daarbo, verskyn binnekort by Tafelberg. Venter het dit eers in Engels geskryf, en dit sal verskyn met die titel Green as the sky above.
 
Jansen het verlede jaar die Universiteit van Johannesburg-prys gewen vir Ons familie, en Venter die Rapport/kykNET-prys vir Wolf, wolf. Trencherman en Wolf, wolf word tans hoog aangeskryf deur buitelandse literatore en resensente.
 
 
Hannes Visser in Gesprek met prof. Ena Jansen oor haar boek, Soos familie.
 
ARTIKEL & FOTO'S: MARLENE MALAN 
 
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'


Your Comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a Oudtshoorn Courant