KKNK 2017: Sekuriteit ’n prioriteit

Die KKNK-rivierbuurt.

OUDTSHOORN NUUS - “Ons verseker graag alle feesgangers dat hulle veiligheid by vanjaar se KKNK ’n top-prioriteit is en dat alles in ons vermoë gedoen word om toe te sien dat besoekers ’n feestelike tyd op Oudtshoorn beleef,” sê Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van die KKNK.

Dié boodskap volg na ’n insident hierdie week waar ’n groep jeugdiges ’n toergids aangeval en toeriste geteister het.

“Om toe te sien dat die fees veilig aangebied word, sorg ons vir sekuriteit by terreine onder ons direkte beheer. Die areas, waaronder die Rivierbuurt en Baron van Reedestraat, is kindervriendelik en dit is vir ons belangrik dat families hulself hier kan geniet.
 
Ons het ’n baie parate sekuriteit diensverskaffer, Metro City Protection Services, en ontvang uitstekende samewerking van die SAPD en munisipale wetstoepassers. Al hierdie instansies word uit die Gesamentlike Operasionele Sentrum (GOS), onder bevel van die SAPD, bedryf en is verantwoordelik vir die oorkoepelende bestuur en veiligheid by die fees,” sê Snyman.

Volgens haar is sekuriteitsbeamptes in uniform en maklik om te identifiseer. “Indien daar enige voorvalle is, kan hulp maklik en vinnig ontbied word en die GOS stel beamptes in staat om hulp in te roep indien daar ’n nood-situasie is. Die brandweer, ambulans- en mediese dienste en verkeer is ook deel van die GOS, wat 24 uur per dag beman word.”

Volgens Rudi du Toit, operasionele bestuurder van Metro City Protection Services, is hulle daartoe verbind om ’n veilige KKNK 2017 te verseker. “Ons is bewus van die uitdagings rondom die huidige situasie in Oudtshoorn en juis vir die doel – en om ander onaangename verrassings te vermy – is ’n omslagtige risiko-analise gedoen. Ons is deeglik voorberei om die beste diens aan die fees te lewer,” sê hy.

Du Toit sê dat hulle bykomend tot die wagte wat ontplooi word, ook verskeie gespesialiseerde wetstoepassers by hulle taakmag insluit. “Hierdie groep is volledig toegerus om enige situasie te hanteer en hulle opdrag is baie eenvoudig: hou die fees veilig. Metro City Protection Service sien uit na ’n veilige en suksesvolle KKNK.”

Snyman benadruk egter dat feesgangers paraat moet wees en nie waardevolle items op plekke moet los wat maklike teikens is nie. “Ons doen ook ’n beroep op feesgangers om nie geld aan persone op straat te gee nie. Deur geld aan die kinders te gee, word hulle in hul kwaad gesterk – sonder om die probleem aan te spreek of op te los. Ons vra dat feesgangers eerder as om geld te gee, die Oudtshoorn Broodprojek ondersteun”, sê sy.

Hierdie projek is ’n inisiatief van ’n aantal Oudtshoorn-besighede, gebaseer op die Pay it forward-konsep. “Die doel is om aan behoeftiges ’n brood eerder as kontant, wat later op iets anders gemors word, te gee. Besoekers kan ’n boekie koop met tien koeponne van R5 elk.
 
’n Koepon (eerder as kontant) kan dan aan die kinders of behoeftiges op straat gegee word, waarmee hulle daagliks ’n brood by die Scrosoppi Sentrum en die Invalsentrum kan ontvang,” sê Jaco Vorster, een van die projekorganiseerders.

Die KKNK begin op Saterdag, 8 April en kom op Saterdag, 15 April tot ’n einde. Die feesdatums val binne die nasionale skoolvakansie en eindig oor Paasnaweek. Die volledige program is beskikbaar by www.kknk.co.za.
 
Kaartjies kan by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home gekoop word. Verblyfbesprekings kan aanlyn gedoen word, of kontak 044 203 8600.
 
'Ons bring jou die nuutste Oudsthoorn, Klein Karoo nuus'


Your Comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a Oudtshoorn Courant