MOSSELBAAI NUUS - Wat is 'n vakansie sonder 'n mark, waar vir daardie oulike geskenkies gesnuffel kan word?
Hierdie seisoen word talle markte in en om Mosselbaai aangebied en veral die aandmarkte het al 'n besonderse instelling geword.
NG Moedergemeente Kersmark
Die NG Moedergemeente se Kersmark word vanaf 14 - 15 Desember, van 09:00 – 18:00 in die Klipkerk in Kerkstraat aangebied. Dis die ideale plek om die laaste Kersinkopies te doen, met 'n groot verskeidenheid handgemaakte items en heerlike eetgoed.
Mosselbaai Kerskunsmark
Die 13de Mosselbaai Kerskunsmark vind plaas van 19 - 21 Desember in die Mosselbaai-suid NG Kerksaal, hoek van 15de en 17de laan, Mosselbaai. Die mark is elke dag oop van 08:00-18:00. Dit is elke jaar 'n paradys van unieke handgemaakte en goedgekeurde geskenke en produkte o.a naald-, hout-, krale- en leerwerk; koekies,beskuit en gebak; juwele; draad en herwinningsprodukte; klere; kinderspeelgoed; vetplante; snuisterye; boeke en vele meer. Hierdie produkte is teen bekostigbare pryse en nie in winkels te koop nie.
Die Kenani Dienssentrum en ander stalletjies verkoop heerlike eet- en drinkgoed, onder andere sosaties, vetkoek en kerrievis. Vir verdere inligting of stalletjiebesprekings, kontak Cecile (082 2243 865).
Mosselbaai- en Hartenbos-aandmarkte
Drie gewilde aandmarkte word hierdie jaar in Mosselbaai en Hartenbos deur die Onafhanklike Entrepeneursvereniging georganiseer en sal soos gewoonlik weer uitstekende waarde vir geld aanbied. Die Mosselbaai-aandmark vind op Vrydag, 22 Desember (17:00 tot laat) plaas en die twee Hartenbos-aandmarkte is geskeduleer vir Saterdag 23 en weer op Woensdag 27 Desember (16:00 tot laat). Marshstraat in Mosselbaai word vir die Mosselbaai-mark gesluit, terwyl die Hartenbos-markte in Kaap de Goedehooplaan plaasvind. Kontak Melony (072 837 8803 of 044 695 2331).
Strand-markte
Hierdie vind plaas by Hartenbos-, Santos- en die Puntstrande elke dag vanaf 09:00 - 18:00 gedurende die vakansie tot 13 Januarie. Kontak Melony (072 837 8803 of 044 695 2331).
Goods Shed
The Goods Shed in Blandstraat naby die ingang na die hawe spog met 'n koffiewinkel, veilige speelplek vir die kinders en talle keurige stalletjies wat alles en nog wat op 'n permanente basis bemark. Kontak Noor Boolay (081 392 6241) of die Goods Shed (044 690 5358) of thegoodsshed@mosselbay.gov.za
Hartenbosmark
Hierdie mark word in die ATKV Amfiteater op Hartenbos aangebied. 'n Groot verskeidenheid keurige gebak en besonderse items, wat die ideale Kersgeskenkies sal wees, word te koop aangebied. Kontak 082 771 5021 of 082 852 1773 vir meer besonderhede.
Groot Brak Uitspanmark
Kom span uit by dié gewilde mark oorkant die Pick n Pay-sentrum vir die heerlikste lekkernye - en vars aarbeie en oulike vlooimarkstalletjies. Die mark vind elke Saterdag gedurende Desember tot 6 Januarie, vanaf 08:00 tot 13:00 plaas.
Groot-Brakrivier Kunsmark
Groot-Brakrivier se kunsmarkie is vanaf 1 Desember, elke dag tot na die vakansie net die plek om rond te snuffel vir 'n geskenk. Die mark vind plaas by die Dolphin Creek gholfbaan. Kontak Maggie (071 436 0005) of Marlene (082 485 1500).
Klipheuwel Padstal
Op Klein-Brakriver. Kontak die padstal om van die vakansieprogram uit te vind (044 696 6855).
Vakansiemark
Die mark is elke dag in Desember oop, behalwe op Kersdag. Die mark begin om 09:00 en sluit om 18:00. Besoek die mark en drink heerlik wyn by die wynstalletjies of snuffel vir enige produk van jou keuse. Die mark is geleë op die hoek van Kamassiestraat- en Onderbosstraat, oorkant die gholf driving range in Hartenbos. Kontak Judith (072 042 4255).
Hartenbos Boeremark
Hierde mark vind by die Carney-gebou plaas. Daar is smullekker eetgoed en interessante "arts en crafts" stalletjies, sowel as 'n witolifant-tafel met meer as 30 tafels vol iets van als en als van iets. Vriendelike uitstallers en jolige musiek. Navrae Charles (082 852 1773).
Mosselbaai familie plaasmark
Dit vind elke Sondag vanaf 08:00 tot 14:00 plaas, net buite Hartenbos langs die Hartenbosrivier en N2. Toegang is vanaf die R102 (ou Groot Brak-pad). Kyk uit vir die FARMER'S MARKET-naambord. Die mark verskaf heerlike vars organiese groente, vrugte, tuisgemaakte produkte, lekker eetgoed en yskoue drinkgoed. Bring jou kinders, kleinkinders en hondekinders na die mark. Kontak Alma (082 601 9936).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'