Die nuwe stelsel bedien 90 HOP-huise in Greenhills, Vanwyksdorp. Die burgemeester het egter ook gesê dat die dag op 'n ander vlak ook 'n hartseer dag is, "want dit wys hoe ver ons in Kannaland agter die nuwe Suid-Afrika is".
"Ons bou nie net toilette en sportvelde nie, ons bou ook gemeenskappe en verhoudings - ons bou 'n nuwe Suid-Afrika. Kannaland is vir wit, bruin en swart, en as ons dit verstaan, kan ons vorentoe kom."
Die nuwe spoelrioolstelsel vervang die verouderde stelsel van puttoilette wat saam met by die huise in 1999 opgerig is.
"Die situasie het 'n ernstige gesondheidsgevaar vir die inwoners ingehou," het dr. Nicholas Crisp, inwoner van Vanwyksdorp, wat hom beywer het vir die nuwe higiëniese stelsel, gesê. Volgens hom het die sementblokke waarop die puttoilette gebou was mettertyd gekraak en die rou riool het in die straat afgeloop. "Die stank was onhoudbaar," het hy gesê.
Die R5 miljoen-projek, wat deur die departement van menslike hervestiging gefinansier is, het die oprigting van 'n rioolnetwerk, installering van 90 spoeltoilette en 'n riool verwerkingsaanleg ingesluit. Die gesuiwerde water word gebruik vir die besproeiing van sportvelde naby Greenhills. Plavei van strate in die Greenhills area is deur MIG (Municipal Infrastructure Grant) gefinansier.
Volgens Crisp gaan die nuwe toiletstelsel gepaard met volgehoue opleiding van huishoudings en skoolkinders. Pamflette is versprei wat die korrekte gebruik van die spoeltoilette verduidelik, en veral wys wat nie in die toilette gegooi mag word nie ten einde die biologiese herwinningseenheid te beskerm. "As ons nie die toilette en die rioolstelsel oppas nie, gaan ons steeds siek word," het Crisp gewaarsku.
"Die spoelrioolstelsel kan ongeveer 100 huise bedien," het André Keyser van Aurecon Raadgewende Ingenieurs, wat die stelsel ontwerp het, gesê. "Dit is 'n modulêre stelsel en kan uitgebrei word om vêrdere gedeeltes van Vanwyksdorp te bedien." Konstruksie is uitgevoer deur Benver Kontrakteurs en Overberg Water het die stelseloperateurs opgelei.
Klik hier vir 'n vorige nuusflits.
Dr Nicholas Crisp spreek die gemeenskap toe tydens die ingebruikneming van die nuwe spoelstelsel.
ARTIKEL EN FOTO'S: TISHA STEYN
'Ons bring jou die nuutste Vanwyksdorp, Klein-Karoo nuus'