Dit was die boodskap van streeklanddros Mark van Wyngaard voordat hy Edward Zaayman en sy pa Daniël Dinsdag elk tot 15 jaar tronkstraf gevonnis het.
Die Zaaymans is sedert verlede jaar in die nuus nadat die Oudtshoorn Courant in reaksie op klagtes van mense wat deur hulle ingeloop is gereageer het en in Februarie 2013 daaroor berig het.
Hulle bedrog het in Oktober en November verlede jaar tot 'n einde gekom toe hulle 'n week na mekaar deur a.o. Darome Burger van die Oudtshoorn-speurtak vasgetrek is. Hulle is sedertdien in aanhouding.
Burger het Dinsdag voor vonnisoplegging getuig dat slagoffers van die pa en seun-span fisiese verlies van R570 000 gely het, maar dat die verlies breër uitkring as net die geldwaarde. Sy het ook daarop gewys dat daar nog drie bedrogsake in Port Elizabeth is wat verhoor moet word. Terwyl sy getuig het, het die Zaaymans telkens hulle koppe geskud.
Hulle het in Augustus op al 33 klagtes teen hulle skuldig gepleit.
Die bedrieërs se regshulpprokureur, Wentzel Botha, het gesê dat sy kliënte bereid is om die geld aan slagoffers terug te betaal indien hulle vrygelaat sou word en toegelaat word om te werk.
Daniël Zaayman het aangedui dat hy weer sy vorige werk by Martins Begrafnis-dienste in Groot-Brakrivier kan terugkry waar hy voorheen R1 800 per maand verdien het terwyl Edward gesê het die eienaar van Ambu 911 is bereid om hom weer aan te stel. Hy het glo voorheen daar gewerk teen 'n salaris van R3 500.
Botha het ook gevra dat die hof die inhoud van proefbeampteverslae in ag sal neem waarin genoem word dat Edward Zaayman 'n seun van 20 maande het en dat Daniël verskeie gesondheidsprobleme het en ook 'n sielkundige sien.
Op sy beurt het die staatsaanklaer, Johan Erasmus, gesê die hof het 'n verpligting teenoor die gemeenskap om 'n boodskap uit te stuur dat mense wat hulself aan die tipe misdaad skuldigmaak gestraf word.
Hy het daarna verwys dat die Zaaymans se bedrog wye persdekking geniet het en dat die gemeenskap deeglik bewus is van die misdade en die skade wat hulle veroorsaak het.
"Die pers sit ook vandag hier in die hof en die hof bepaal watter boodskap oorgedra gaan word."
In sy uitspraak het landdros Van Wyngaard onder andere vir die Zaaymans gesê: "U het saam op 'n slim deurdagte uitgewerkte manier te werk gegaan om mense te laat skade ly... Dit was julle beroep gewees en daar is niks daarvan oor nie (met verwysing na geld wat hulle bekom het)... Al twee het deelgeneem, pa en seun, ek het lanklaas so iets teëgekom."
Hy het Daniël Zaayman 15 jaar tronkstraf op klagtes 1,2,7 tot 22 en 29 tot 33 opgelê.
Op klagtes 1 tot 7, 20-28 en 30-33 is Edward ook 15 jaar opgelê. Beide die ondersoekbeampte en die staat het aangedui dat hulle tevrede is met die straf en dat dit 'n duidelike boodskap aan mense uitstuur dat bedrog nie deur howe geduld word nie.
Klik hier vir 'n verwante nuusflits.

Daniël Zaayman is Dinsdag 15 jaar tronksraf vir bedrog opgelê.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'