8 Jaar vir bedrog van R5 miljoen

Generiese foto.

OUDTSHOORN NUUSFLITS - 'n Man (57) is verlede Donderdag in die Oudtshoorn-streekhof tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hy aan bedrog van byna R5 miljoen skuldig bevind is.
 
Ockert Johannes Stephanus Fourie, enigste direkteur van die beslote korporasie Sunprix Grape and Citrus Distribution, het Absa Bank uit altesaam R4 866 819,98 bedrieg. Hy is in Oktober 2014 in hegtenis geneem en op 16 Desember 2016 skuldig bevind nadat hy skuldig gepleit het.
 
Fourie het vantevore transaksies by die bank gedoen en sodoende die vertroue van die bank gewen. Die betrokke drie transaksies op 6 Julie 2005 (R2 366 739.96), 12 Julie 2005 (R2 340 431.93) en 29 Julie 2005 (R159 648.00), is deur die bank goedgekeur sonder die nodige bewyse.
 
Die bedrae is in Fourie se rekening betaal met die verstandhouding dat hy op die punt was om altesaam 597 535 euro van oorsese maatskappye te ontvang vir vrugte wat hy glo uitgevoer het. Hy het die geld wat deur die bank aan hom oorbetaal is gebruik, maar die bank het nooit die beloofde betalings wat op die ontvangs van die euros sou volg ontvang nie.
 
Fourie het daarna ook sy sakerekening na 'n ander bank verskuif.
 
Hy het erken dat hy fouteer het deur by drie geleenthede aan Absa voorgegee het dat hy oor genoeg fondse beskik om euros oor te skakel in rand. Hy het erken dat Absa skade kon ly en dat hy bewus was dat 'n probleem kon ontstaan met fondse aan hom verskuldig vanuit die buiteland.
 
 
Ockert Fourie. 
 
Klik hier vir vorige artikels:
Lees meer in Vrydag se Oudtshoorn Courant, asook aanlyn.
 
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoor, Klein Karoo nuus' 


Your Comments

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a Oudtshoorn Courant