Padreëls gaan strenger toegepas word

Oudtshoorn se munisipale verkeersdienste gaan meer sporadiese padblokkades hou. Foto: Oudtshoorn-munisipaliteit

OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit se verkeersdienste het begin om as deel van 'n beter diens aan die gemeenskap meer sigbaar te wees.
 
Ntobeko Mangqwengqwe, senior woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, het Dinsdag 14 Maart gesê wetstoepassing gaan opgegradeer word.
 
"Hierdie veldtog sal druk op die gemeenskap plaas om verkeersreëls en ander veiligheidsmaatreëls te gehoorsaam," het Oudtshoorn se uitvoerende burgemeester, Colan Sylvester, gesê.
 
"Die verkeersbeamptes sal algemene verkeersbeheer en bestuur opskerp. In die proses sal daar seker gemaak word dat die publiek die wette nakom." Sylvester het beklemtoon dat onpadwaardige voertuie geskut sal word en heftige boetes aan skuldiges opgelê sal word.
 
"Sporadiese wetstoepassingsoperasies, asook rondgaande padblokkades sal aan die orde van die dag wees. Baie van hierdie operasies sal in samewerking met die provinsiale verkeersdienste, sowel as die Suid-Afrikaanse Polisiediens uitgevoer word.
 
Sylvester het gesê die klem sal gelê word op:
• Registrasie van voertuie. "Alle voertuie moet padwaardig wees en die nodige dokumente moet in plek wees."
• Gehoorsaam wetstoepassers se opdragte. "Wetstoepassers is in beheer as dit kom by die toepassing van verkeerswette."
• Bly binne die spoedbeperkinge.
• Drink en bestuur. "Dit is 'n misdryf om onder die invloed van alkohol of dwelms te bestuur."
• Bestuur sonder 'n geldige rybewys.
• Motoriste moet stop by voetoorgange.
• Padtekens moet gehoorsaam word.
• Motoriste moet voorkeer gee aan noodvoertuie wanneer hulle met noodligte en sirenes ry.
 
"Die verkeersdepartement wil 'n diens lewer aan die gemeenskap. Ons moedig die publiek aan om met 'n voorstel vir beter dienslewering na vore te kom."
 
Voorstelle kan per e-pos na comment@oudtmun.gov.za gestuur word.
 
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus' 


Your Comments

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a Oudtshoorn Courant