Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Bestuurder wat Saterdagmiddag in Randstraat 'n heining en 'n hek platgery het, is op die toneel vir dronkbestuur gearresteer nadat 'n alkohollesing byna vier keer hoër as die wettige perk geregistreer het.
Volgens videomateriaal van 'n sakeonderneming oorkant die huis waar die botsing plaasgevind het, het die bestuurder in die straat stilgehou en die VW Golf se toere opgejaag voordat hy weggetrek het. Met die wegtrek het die motor op die regterkantse sypaadjie beland en 'n muur getref.
Daarna het dit met die sypaadjie langs gery, 'n hekpaal getref en in 'n erf beland. Die bestuurder het vir etlike minute in die motor bly sit voordat 'n omstander hom aangesê het om by die passasiersdeur uit te klim.
'n Lid van die provinsiale verkeersafdeling het 'n alkoholtoets op die toneel uitgevoer waarna die bestuurder deur die polisie gearresteer is.
Volgens die eienaar van die onderneming waar die videomateriaal opgeneem is, was hulle besig om rugby te kyk toe hulle bewus geword het van die motor wat in die straat is.
"Ons kon hoor hoe die kar gerev word en toe wegtrek. Toe ons die eerste slag hoor het ons uitgehardloop, want my motor is oorkant die besigheid geparkeer," het die besigheidseienaar gesê en die videomateriaal aan die verkeersafdeling en die Oudtshoorn Courant getoon.
Die bestuurder van die Volkswagen Golf is na aflegging van hierdie alkoholtoets op 'n klag van dronkbestuur gearresteer.Dit is duidelik dat die Golf reg op die man se geparkeerde Jetta afgepyl het en dit waarskynlik reg van voor sou tref as die Golf se regterkant nie die hekpaal getref het nie.
Lees 'n vorige artikel hier: Ongeluk in Randstraat
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'