OUDTSHOORN NUUS - Die Water Wise Ways-projek (WWW) van die Gourits-groepsbiosfeerreservaat wat in 2016 met die War on Leaks-projek begin het is besig om die gemeenskap waterslim te maak.
Die oorspronklike War on Leaks-projek word uitgebrei as die Fix&Learn projek.
"Die projek behels opleiding van voorheen werklose gemeenskapslede om lekkende toilette en waterpype te herstel," sê Susan Botha namens Trapsuutjies, wat die projek bestuur.
Die projek sal aanvanklik fokus op waterbesparing by 5 782 deernishuishoudings aan wie die Oudtshoorn-munisipaliteit elke maand 6 000 liter water elk gratis beskikbaar stel.
"Die deernishuishoudings se gemiddelde waterverbruik is egter tussen 15 en 17 kiloliter, waarvoor die munisipaliteit ook aan die departement van water en sanitasie moet opdok. Die doel van die projek is om watervermorsing in hierdie huishoudings te beperk en sodoende vir die munisipaliteit (en die belastingbetaler) geld te spaar."
'n Verdere uitkoms van die Fix&Learn-projek is om 'n aantal gemeenskapslede toe te rus met loodgietervaardighede sodat hulle as entrepreneurs onderhoudswerk vir die munisipaliteit kan doen.
Volgens Botha sal die projek in Oudtshoorn, Dysselsdorp en De Rust uitgerol word.
Watermeterlesings by die deernishuishoudings sal aangeteken word deur personeel by 'n nuwe kantoor van die WWW-projek in Hoogstraat.
"Omdat die uitkoms van die projek meetbaar moet wees sal al die data in die kantoor opgeteken word en 'n gereelde oudit gedoen word."
Gemeenskappe word reeds bewus gemaak van die projekte deur Paul en Marina Eilers van Oudtshoorn se uitmuntende omgewingsgerigte poppeteater "Druppels". Die poppeteater besoek tans laerskole in die Klein-Karoo om die boodskap van die oordeelkundige gebruik van water uit te dra.
Kontak Susan Botha by 083 500 5900 vir meer inligting oor die Water Wise Ways-projekte.
Die Water Wise Ways-projek (WWW) van die Gourits-groepsbiosfeerreservaat wat in 2016 met die War on Leaks-projek begin het is besig om die gemeenskap waterslim te maak.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'