BEAUFORT-WES NUUS - Twee skaliegasboorgate word ingespan om die waternood in Beaufort-Wes te verlig.
Die nasionale departement van minerale en energie se hulpbronne-afdeling en die Wes-Kaapse regering het tot die Beaufort-Wes-munisipaliteit se redding gekom deur twee skaliegasboorgate aan die munisipaliteit te skenk om die dorp se watertoevoer te voed.
Die Wes-Kaapse regering het 'n verdere R2 miljoen beskikbaar gestel om die eerste boorgat voor te berei om water af te voer na die opgaardamme.
Volgens Marlene Hendricks, woordvoerder van dié munisipaliteit, word 'n verdere R2 miljoen nog benodig om die tweede boorgat voor te berei vir waterafleiding na die dorp.
"Sodra die boorgate funksioneel is sal daar na verwagting een miljoen liter water per dag in die dorp se watertoevoer gepomp kan word.
Beaufort-Wes se hoofwaterbron, die Gamkadam, is leeg.
Die twee skaliegasboorgate sal 'n toevoeging wees tot die 32 boorgate rondom Beaufort-Wes wat tans 84% van die dorp se water voorsien, terwyl die ander 16% uit herwinde rioolwater verkry word.
Die dorp is tans op vlak 4B-waterbeperkings, wat bepaal dat elke huishouding slegs 12 kiloliter water per maand mag gebruik.
'Ons bring jou die nuutste Beaufort-Wes, Tuinroete nuus'