TUINROETE NUUS - Eden-fietsry se prestasies, organisasie en voorbeeld vir ander streke se fietsryverenigings, het daarin geslaag om 'n finansiële inspuiting, wat volgens beraming tot R15 miljoen kan wees, vir Oudtshoorn te verseker.
Wat deur Fietsry SA as die Blouvlag-kampioenskappe van die land se fietsrykampioenskappe beskryf word, die 2018 nasionale fietsry en tydtoetskampioenskappe, is aan Eden-fietsry toegeken en word op Oudtshoorn aangebied.
Die kampioenskappe, wat ongeveer 5 000 mense na die dorp sal bring, word van 6 tot 11 Februarie hier op eie bodem aangebied.
Die Oudtshoorn-munisipaliteit ondersteun Eden-fietsry se organiseerders met R30 000 om van die geleentheid 'n sukses te maak.
Die munisipaliteit gaan ook help met die infrastruktuur se voorbereiding.
Tydens die oorhandiging van die R30 000 het Corné Bence, Eden-fietsry se president, die uitvoerende burgemeester, Colan Sylvester, die versekering gegee dat hulle die dorp se naam hoog sal hou, nie die munisipaliteit teleurstel nie en 'n kampioenskap van hoogstaande gehalte aan te bied.
"Gastehuise, hotelle, restaurante en ander besighede kan 'n reuseinspuiting tydens die kampioenskappe verwag," het Bence gesê.
Die onderskeie renne sal in Voortrekker-weg, voor die rekreasiegronde begin en eindig. Op 6 en 7 Februarie sal deelnemers tydtoetse oor 'n 14,6 km-roete ry.
Die roete sal ryers op die Mosselbaai-pad in die rigting van Volmoed neem.
By Safari-volstruisskouplaas draai hulle terug rigting Oudtshoorn en met Langenhovenweg langs sal hulle weer tot by die rekreasiegronde ry.
Die padrenne vind van 8 tot 11 Februarie plaas. Dié renne strek oor afstande van 14,6 km, 52,8 km, 61 km, 86,8 km, 99,8 km, 120,8 km, en 154,8 km.
Die para-fietsrykampioenskappe sal deel uitmaak van die week se fietsry. In elke kategorie sal 'n SA kampioen gekroon word.
Bence het sy opgewondenheid oor ontwikkelingsrenne wat ook aangebied sal word, uitgespreek. "Hier gaan opkomende fietsrytalent geïdentifiseer word.
Hulle gaan nie net in drie renne kompeteer nie, maar die geleentheid gegun word om by die beste van SA se beste fietsryers te leer.
Sylvester het Bence geloof vir die prestasie om die SA kampioenskappe op Oudtshoorn te laat aanbied.
"Dit sluit aan by ander groot sportkampioenskappe, soos die SA swem- en SA trompoppieskampioenskappe wat in 2018 op Oudtshoorn sal aangebied word.
"Verskeie Wes-Kaapse kampioenskappe is ook reeds in die Oudtshoorn-sportdagboek vir 2018 geboek."
Vir meer inligting, besoek die webtuiste www.edencycling.co.za
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Tuinroete nuus'