Kunstenaar wil plaaslik terugploeg

Boniface Chikwenhere by sy stalletjie in die Rivierbuurt. Foto: Liezl van Niekerk

OUDTSHOORN NUUS - Boniface Chikwenhere, 'n kunstenaar van die Kaap, was vanjaar die wenner van die beste kunsstalletjie in die Rivierbuurt en het met 'n kontantprys van R6 000 weggestap.
 
Chikwenhere maak unieke beelde uit afvalhout wat hy optel of wat mense vir hom bring.
 
"Ek was totaal verras toe ek hoor ek het ge-wen. Ek wou aanvanklik nie kunstefees toe kom om uit te stal nie, maar 'n vriend van my het my omgepraat. Ek het regtig nie gedink ek sal so iets wen nie," het hy gesê.
 
Hy beoefen die kunsvorm al vir ongeveer 12 jaar.
 
"Ek is oorspronklik van Zimbabwe, maar het 'n werkspermit in Suid-Afrika. Ek kom uit 'n baie kunstige familie wat verskeie vorme van kuns beoefen, maar dié is wat my aandag getrek het," vertel hy.
 
Volgens hom neem dit nie so lank om die beelde te maak nie.
 
"Wat tyd vat is om te sien wat ek uit die hout moet maak. Ek kry die stuk hout en soms sien ek 'n prentjie daarin. Ek sal byvoorbeeld 'n voël se vlerke en stert visualiseer en dan beklemtoon ek dit. Dit is daardie deel van die hout wat ek dan sal vorm, skuur en poleer en die res van die hout los ek in sy natuurlike vorm, want dit is wat die beeld uniek maak - die grein en kleure van die hout. Ek kleur ook nie die hout waarmee ek werk nie - alles moet natuurlik bly," het hy vertel.
 
Chikwenhere sê hy het groot planne vir volgende jaar se KKNK.
 
"Ek sal graag my werk by plaaslike galerye wil uitstal. Ek wil ook volgende jaar kyk of ek werksessies kan aanbied om mense te leer om self sulke beelde te maak."
 
Volgens hom is dit nie 'n ingewikkelde proses nie, maar moet mens net dit wat jy wil doen kan visualiseer.
"Ek hoop dit gaan werk, want dit kan mense help om hul talente te ontwikkel en om moontlik 'n ekstra inkomste te verdien."
 
 
Een van die unieke kunswerke van Chikwenhere.  
 
ARTIKEL & FOTO'S: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS 
 
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus' 


Your Comments

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a Oudtshoorn Courant