OUDTSHOORN NUUS - Water wat in sommige gedeeltes van Oudtshoorn troebel is, is as gevolg van swaar reën in die opvangsgebied Woensdag.
Die munisipaliteit het vanoggend die volgende verklaring uitgereik:
Woensdag het daar ‘n sterk reënbui in die opvangsgebied van die Raubenheimerdam, Melvilledam en Rust & Vrede Waterval uitgesak en 40mm is by Raubenheimerdam en 50mm by die waterval gemeet.
Massas water het as gevolg van die reën in die twee damme ingevloei.
Die plantegroei in die opvangsgebied het nog nie na die brand van Desember 2016 voldoende herstel om die vloeispoed teen die berghellings te verminder nie en dus is die water wat in die damme invloei baie troebel.
Die troebelheid verminder die effektiwiteit van die chlorinering maar op hierdie stadium is daar nog geen rede tot kommer nie.
Watermonsters is vanoggend in die reservoirs geneem en aan die laboratorium oorhandig vir ontleding. Uitslae sal onmiddelik bekend gemaak word sodra dit ontvang word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'