OUDTSHOORN NUUS - Die volstruisbedryf is op hete kole nadat die hoogspatogene H5N8-virus vermoedelik op twee plase in die Heidelberg distrik uitgebreek het.
Die twee plase is onder kwarantyn geplaas.
“Daar is geen volstruise wat kliniese simptome van die virus toon nie,” het Piet Kleyn, hoof uitvoerende bestuurder van die Suid-Afrikaanse Volstruisbesigheidskamer (SAVBK), Maandagoggend in Oudtshoorn gesê. “Toetse word gedoen om seker te maak of dit wel dié virus is.”
Dit is die eerste keer dat dié hoogs aansteeklike voëlgriepvirus, ’n tipe H5N8-patogeen, in die Wes-Kaap voorkom nadat dit vroeër vanjaar op hoenderplase in Mpumalanga en Gauteng aangemeld is.
Na aanleiding van die uitbreking in die noordelike provinsies, is uitvoere van rou pluimveeprodukte, wat rou volstruisvleis insluit, verbied.
Dit is ‘n terugslag vir die volstruisbedryf, veral nadat uitvoere van vars vleis eers in 2015 hervat is en stadigaan dié mark in Europa teruggewen het. Die uitvoer van vars vleis is na die uitbreking van hoog-patogene H5N2 in 2011 verbied in terme van regulasies van die Wêreldgesondheidsorganisasie en die Europese Unie.
Die SAVBK het volstruisboere gemaan om biosekerheidsmaatreëls op hul plase te verskerp deur werkers se uniforms te steriliseer, toegang tot die plase te beheer, die volstruise se drinkwater te chlorineer en enige simptome van die virus by volstruise (wat groen urine, ‘n verandering in voedinginname en algemene gesondheid kan insluit,) onmiddelik aan te meld. Enige dooie watervoëls moet ook aangemeld word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'